Bouwer Bosch

Sowat twee maande gelede het ek met ’n #Versoening-projek begin waar ek met verskillende mense uit verskillende agtergronde oor die verlede, en spesifiek apartheid, gesels.

My gesprek begin waar ek jammer sê vir die verlede en hoe ek voel die emosionele skade van die apartheidsisteem steeds vandag nog ’n invloed het op ons almal se lewens. Die rede hoekom ek hierdie gesprekke doen, is omdat ek voel ons sit vandag met die onmeetbare skade van daai tyd en as mens dit nie gaan adresseer of ’n veilige plek gaan skep waar mense oor hulle seer en ervaringe kan gesels oor die verlede nie, gaan die wonde nooit gesond word nie. Ek doen dit ook dat ons as witmense kan probeer verstaan en iemand anders uithoor oor hulle verlede en hoe dit moes wees om nie ’n wit persoon te gewees het nie.

Ek voel ons as Suid-Afrikaners praat te veel van mekaar en te min mét mekaar. Wat help dit ons is ’n reënboognasie, maar die blou mag nie met die rooi praat oor hoe hy voel nie? Die feit dat die woord “apartheid” nog weekliks in rubrieke of perskonferensie opduik, 23 jaar nadat dit afgeskaf is, sê net vir my dat daar nog nie regtig met die verlede gedeal is nie en dat dit geen skade kan doen om mekaar uit te hoor nie.

Die Waarheids- en-Versoeningskommissie het ’n ongelooflike werk gedoen die twee jaar wat dit bestaan het, maar hoe wil jy meer as 50 jaar se onregverdigheid en hartseer in twee jaar probeer genees? Genesing vat tyd en ons sit vandag met miljoene mense se onmeetbare wonde van apartheid waaraan daar nooit aandag gegee is nie.

In Suid-Afrika word ons ongelooflik gedryf deur narratiewe. Die woord “wit monopolie kapitaal” het nie eens bestaan in ons land se woordeskat voordat Bell Pottinger dit in ’n persverklaring gesit het nie. “Volksmoord” is ’n ander narratief wat sekere mense dryf en vrees in mense se harte plaas. “Black first land first” is deesdae ’n groot narratief in die media en hierdie narratiewe beïnvloed hoe jy dink, hoe jy optree teenoor ander. Dit beïnvloed die klimaat onder die mense in ons land.

Die gesprek gaan nie oor of die narratiewe meriete het nie, want elkeen het waarde. Dit gaan oor hoe groot impak dit op ons land se denke het. Narratiewe is als en ek bevind myself op 33-jarige ouderdom dat ek klomp van die narratiewe wat ek geleer is as kind moet afleer. Om goed af te leer is net so belangrik soos om nuwe goed te leer.

Wat my die meeste fassineer is nadat ek die #Versoening-gesprekke begin het, is dat soveel mense gekant is teen om in liefde teenoor iemand te sit en hulle uit te hoor. Ons is so gewoond aan om te verdedig en te baklei dat dit ons default setting geraak het en dan wanneer iets in liefde gedoen word en wanneer dit nie oor jou gaan nie, dan verstaan mense dit nie.  Dit laat my wonder of sommiges regtig ’n beter land soek.

’n Hartseer deel van die gesprekke is die hoeveelheid Christene wat nie kan insien dat Jesus juis in die versoeningsbesigheid is nie. Dit laat my wonder of die NG Kerk nie maar nogsteeds slaag in hulle manier van dink oor die verlede nie. Kerke het seker die grootste impak van alle instansies in ons samelewing se denke, maar ek voel kerke is te bang om die verlede aan te pak om mense gesond te kry, want dis ongemaklik en nie flashy nie.

Ons kan nie wil sê “God is liefde” en dan in dieselfde asem sê “nie die tipe liefde wat jou toelaat om oor die hartseer verlede met jou medemens gesels” nie. Ek weet kerke is stukkend omdat dit deur stukkende mense soos ek en jy bestuur word, maar dis juis dit, om te erken jy is stukkend het waarde. Om iemand uit te hoor wat ook stukkend is, het baie waarde en daar is miljoene mense in ons land wat ek voel gehoor moet word.

Omdat narratiewe juis so ’n ongelooflike groot impak in ons samelewing het, voel ek ons moet harder probeer om nuwes op die tafel sit. Narratiewe wat te doen het met liefde, begrip, vergifnis, luister. As ons nuwe resultate in Suid-Afrika soek, gaan ons met nuwe aanslae moet kom en ek dink ons kan nou maar eerlik vir mekaar sê dat dit nie van ons huidige politieke leiers gaan kom nie. Dit gaan van my en jou af kom om anders te begin dink en anders te begin optree rondom ons verlede en ons toekoms.

NS – FW de Klerk het nooit vir witmense gesê hulle moet jammer sê vir apartheid nie, maar tog het Nelson Mandela vir swartmense gesê hulle moet vergewe, en hulle het. Liefde, vergifnis en begrip sal maar altyd ’n groter impak in die wêreld hê as haat.

Alles gaan okay wees.

Bouwer Bosch is ’n Afrikaanse televisie-aanbieder en musikant.