Wianda Gilliland

Twee Matie-atlete, Ilse Hayes en Dyan Buis, is onderskeidelik as Suid-Afrika se sportvrou en sportman van die jaar met ’n gestremdheid, by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings (SASA) vereer.

“Dit is vir my ’n groot eer om hierdie toekenning te kry, veral met die kaliber para-atlete wat ons in Suid-Afrika het,” het Buis gesê.

Buis, ’n honneursstudent aan die Fakulteit van Onderwys, ly reeds vanaf geboorte aan serebrale verlamming. Hierdie kondisie behels dat kommunikasie vanaf die brein na die spiere vertraag is. Buis se linkerkant word meestal geaffekteer.

“Alle spiere en funksies is swakker aan my linkerkant. Dit beïnvloed beweging, balans, spierfunksie, krag en koördinasie.”

Buis het op skool in naellope en verspring begin presteer. Dit het toe ’n persoonlike droom vir hom geword om vir die 2012 Paralimpiese Spele te kwalifiseer. Hy het daar drie medaljes verower.

Hy het aanhou woeker en by die 2016 Paralimpiese Spele het hy die 400 m rekord verbeter.

“Ek wil baie graag tot 2020 deelneem. Ek wil ook my PhD voltooi en ’n verskil maak in onderwysstelsel,” het die atleet oor sy toekomsplanne gesê.

Buis het vertel dat hy nie sy kondisie as ’n beperking beskou nie, maar as ’n aansporing om harder te werk. Hy kan spog met verkeie medaljes, asook die Skild van Jove-toekenning wat hy verlede jaar by SASA verower het.

“My lewe en veral my sport is ’n platform waardeur God sy grootheid en genade laat skyn.”

Hayes (32) is op 11-jarige ouderdom met Stargardt’s siekte gediagnoseer.  Die siekte tas jou sentrale visie aan en hinder die oë om detail te onderskei.

Sy het aanvaklik aan nie-paraplegiese sport deelgeneem, maar op 15-jarige ouderdom is sy aan paraplegiese sport bekendgestel. Sy het in dieselfde jaar reeds internasionaal deelgeneem.

Sy neem aan die 100 m, 200 m en 400 m in klas T13 deel.

Hayes het die medaljes ingeryg. Sy het aan vier Paralimpiese Spele deelgeneem, asook verskeie Wêreld Para-atletiek Kampioenskappe. Na afloop van haar eerste Paralimpiese Spele, te Beiljing in 2008, het sy weggestap met ’n gouemedalje in verspring en weereens in London 2012.

Sy het daarna meer op naellope begin fokus. In 2015 het sy die wêreldrekord vir die 100 m oor alle klasse gebreek. Sy het hierdie jaar haar atletiekloopbaan beëindig met ’n silwermedalje in die 200 m by die Wêreld Para-atletiek Kampioenskappe in Julie.

“Ek gaan atletiek baie mis, maar ek het soveel blessings en memories om na terug te kyk,” het Hayes gesê.

Sy het die toekenning al twee keer vantevore verower.

“Ek het nie deelgeneem om toekennings en medaljes te wen nie, maar ek is baie dankbaar om weer hierdie toekenning te kry en om my atletiekloopbaan op so ’n hoogtepunt af te sluit.”

Hayes het haar graad in Sportwetenskappe in 2009 gekry en het met ’n honneursgraad in Pediatriesewetenskappe aangegaan. Sy het van 2009 tot 2017 vir Maties Atletiek deelgeneem.

Fotos: Facebook