Arleen Stone

Drie maal is skeepsreg. Dit is veral waar vir die Bester-drieling wat vandag saam aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gradueer.

Die 23-jarige Simoné, Marko en Christine Bester gaan vandag onderskeidelik met twee HonsBRek-grade en ’n BA in Visuele Kommunikasie-ontwerp wegstap.

Die Bester-drieling, wat oorspronklik ’n vierling was, is twee maande te vroeg gebore en gevolglik was hulle oudste suster, Tanya, se longe onderontwikkel. Sy is op sewe maande aan kinkhoes oorlede. Vandag het dié drie ’n hegte verhouding, maak deel uit van dieselfde vriendegroep en grap dikwels oor die ‘rangorde’ waarin hulle gebore is.

“Ons spot altyd met Marko, want hy is die jongste. Hy sê net dat hy ’n gentleman is en die girls eerste laat gaan het,” het Simoné, die oudste van die drie, vertel.

Simoné en Christine het aan die St. Dunstan’s College in Benoni gematrikuleer, terwyl Marko sy hoërskooljare aan die Christian Brother’s College in Boksburg voltooi het. Reeds op skool het hulle hul roeping gekies: Marko en Simoné het beide syfers en rekeningkunde gekies en Christine het nes haar ma ’n kreatiewe hand ontwikkel.

Dit is ook tydens hulle kinderjare en familiekuiers in die Wes-Kaap wat die drieling op die Eikestad verlief geraak het en besluit het om eendag aan die US te studeer.

“Ek het altyd van die oop kampus gehou, die berge en die mense in die Kaap. Dit was definitief ’n maklike besluit,” het Christine verduidelik.

Vir Simoné was die stilte en rustigheid van die dorp, asook die nabyheid aan Kaapstad die grootste faktore.

Ondersteuning het ’n groot gedeelte van hulle verhouding uitgemaak tydens hul studies. Aangesien Simoné en Marko dieselfde kursus gevolg het, het hulle dikwels saam studeer, maar ook vir Christine ondersteun met haar uitstallings. Christine het weer dikwels haar lyf kok gehou vir die drie.

Die drie se grootouers, Koos en Annatjie van der Merwe, het met groot lof en trots van hul kleinkinders gepraat.

“Dit is wonderlik dat hulle dit saam kan doen [gradueer] omrede hulle ’n baie sterk band het. Hulle ma het ’n groot taak verrig en kan baie trots op hulle wees,” het hul ouma vertel.

Hul oupa het beaam dat hulle as kinders totaal verskillend was, maar dat hulle, tot vandag toe nog, saam as ’n taakmag staan wanneer hulle gekonfronteer word.

Christine het uitgebrei oor hulle verhouding: “Ek dink altyd so daaraan, as ons een persoon moes wees, sou ons iemand wees wat iets van alles kon doen, want ons het elkeen ’n unieke faktor wat maak dat ons as ’n geheel goed saamwerk. As ons té dieselfde was, sou ons moontlik baie meer baklei het.”

Tog, ten spyte van hulle verskille, kry die drieling steeds vrae rakende of hulle drieling-telepatie ervaar, waarop Simoné laggend antwoord: “Nee, ons wens!”

Volgende jaar beplan die Bester-drieling om die arbeidsmark te betree, Simoné by PWC-ouditeurs in die Waterfront, Marko by PKF Rademeyer Wesson-rekenmeesters en Christine as ’n grafiese ontwerper by ’n nuwe Kaapse sekuriteitsfirma.