Dané Dooge & Ané van Zyl

Om ’n fliek te maak is soos om te myn. Jy kap klip tot jy by die goud uitkom.

Dít is hoe Bouwer Bosch die vervaardiging van sy nuwe Afrikaanse aksie-komedie, Vuil Wasgoed, beskryf.

Bennie Fourie (links) en Bouwer Bosch (regs) is die meesterbreine agter hierdie bloederige komedie.

Bennie Fourie, skrywer van Vuil Wasgoed en wenner: Beste Akteur by vanjaar se Silwerskermfees vir sy vertolking as Kevin in dié fliek, het gesê Vuil Wasgoed is ’n tipe “bromantic comedy” met ’n nuwe aanslag op Afrikaanse humor.

“Hierdie is ’n spesifieke genre van komedie. Dit is droog en gestroop van toilethumor. Ek kan dit vergelyk met TV-reekse soos The Office en Parks and Recreation. Dit is iets waarvan ek en Bouwer baie hou en dit is wat ons spesifiek in dié fliek probeer vermag het,” het Fourie gesê.

Ander grootskerm-staatmakers, soos Nico Panagio (Manny), Stiaan Smith (Jackie), Tim Theron (Tom), Leandie du Randt Bosch (Alecia) en Simoné Nortmann (Niki), is ook in Vuil Wasgoed te sien.

Die fliek het dieselfde basiese eksposisie as die Vuil Wasgoed-kortfilm, wat in 2014 Beste Kortfilm by die Silwerskermfees gewen het: twee mans werk in ’n wassery en vind dan ’n afgekapte vinger in ’n baadjie se sak.

Die fliek het ’n meer uitgebreide storielyn as die kortfilm, maar volgens Fourie bly die aanslag dieselfde. “Baie van die grappies in die kortfilm het ek skaamteloos in die fliek gebruik, want te min mense het nog die kortfilm gesien.”

Na hul studentejare in Potchefstroom het Fourie en Bosch mekaar weer op die stel van Mooirivier raakgeloop en om ’n tafel in ’n Wimpy op Stellenbosch is die idee vir Vuil Wasgoed gebore. Dit is toe oorspronklik vervaardig as ’n kortfilm vir die Silwerskermfees, wat in 2014 nog net twee jaar oud was.

Die fliek se slagspreuk, “dankie dat jy hier was”, kom ook uit Stellenbosch se Wimpy, het Bosch vertel. “Ek het net ’n ideale idee vir ’n punchline gekry en ek dink ek en Bennie sal die oomblik vir altyd onthou.”

“Ek is sterk in die tegniese kant en Bennie is goed met skryf. Ons het nie gedroom daarvan om saam Beste Kortfilm te wen nie, maar toe het ons onverwags die geld gekry om die kortfilm in ’n volwaardige fliek te ontwikkel,” het Bosch gesê.

Bosch het gesê dat die fliek vir baie kykers “nuwe nuus” gaan wees. “Daar is nie ’n groot kortfilm-kultuur in ons land nie, al is daar ’n groot filmkultuur. Vuil Wasgoed is nuut en vars en nie baie mense het al die kortfilm gesien nie.”

Vuil Wasgoed is ook propvol aksie. “Daar is nie ’n hedendaagse Afrikaanse fliek wat soveel aksie soos dié een het nie. Dalk is daar so iets in die 70’s en 80’s gemaak, maar ek het nog nie onlangs so iets gesien nie,” het Bosch gesê.

Hierdie aksie-komedie is ’n bloederige besigheid. Fourie het vertel dat daar heelwat ontploffings is en dat baie geweerskote afgevuur word. “Iemand word selfs met ’n haelgeweer geskiet.”

Die fopbloed wat gebruik word, word met suiker aangemaak en is daarom baie taai. “Tydens opname kon jy vir omtrent drie uur lank niks met jou hande doen nie. Die goed is so taai en smeer aan alles af. Daar moes ook vir vyf weke lank elke dag ’n sny op Bennie se voorkop aangeplak word,” het Bosch gesê.

Daar is ’n paar versteekte snaaksighede in die film, wat Bosch “easter eggs” noem. “Ons het, byvoorbeeld, beplan om die titel van elke ander kortfilm wat saam met Vuil Wasgoed aan 2014 se Silwerskermfees deelgeneem het, in die film te noem. Volgens Bosch is daar nog baie ander versteekte grappies wat ’n skerp kyker sal geniet.

Vuil Wasgoed word op 8 Desember in teaters landwyd bekendgestel.

Kyk die lokprent: