S.Z. Minnaar

En so het Woordfees 2018 ook tot ’n einde gekom. Die “jool vir oumense” en “toetsweek vir dramastudente” is nou verby, aangesien parkeerplek weer skaars is, maar darem nie meer uiters skaars nie.

Sommige mense is bly daaroor, ander hartseer en die oorblywendes kan seker nie minder gepla wees nie. Dalk moet ek noem dat ek nogal bietjie hartseer is. Ek het Woordfees geniet; baie geniet. Ek sal so ver gaan om myself as ’n feeskat te beskryf (terloops, sommiges noem hulle nou ook al feesbrakke en feesbeeste).

Dit is miskien te verwagte, want (as alles goed gaan) vang ek aan die einde van die jaar my BA-graad met teaterwetenskap as een van my hoofvakke. Ek het ruim tyd gehad om verlede week te fees en het meeste daarvan
aan veral toneelstukke afgestaan.

Hier en daar het ek ’n boekbespreking, gesprek of iets in daai lyne bygewoon. Dit was vir my lekker om saam met
die ander feeskatte te fees. Daar is min vreugdes soos om oor ’n gedeelde belangstelling entoesiasties te wees.

Ek gaan dit mis om sorgeloos Geografie 314 mis te loop (dankie aan my dosent wat “toevallig” gedurende Woordfees in Johannesburg was) om eerder in Ryneveldstraat te gaan baljaar.

Maar daar was ook baie suurpruime wat aansienlik minder entoesiasties was – en soms met goeie rede – maar
meestal as gevolg van ’n klomp wanindrukke. Hulle voer gewoonlik aan dat Woordfees “te duur, te vervelig, te wit,
te veel oumense, te Afrikaans” en nog baie ander dinge is.

“Net nie my vibe nie,” sê hulle. Dit is seker verstaanbaar, maar dit is ook baie jammer. Dit is eenvoudig net nie waar nie, want Woordfees bied iets vir almal (en dit is nie net ’n cliché nie).

Te duur? Onwaar, tussen al die studenteafslag en R30-kaartjies was daar ook gratis dinge om te doen.

Te vervelig? Daar was seks, dwelms, rock ’n roll en ’n paar naakte lywe wat sag op die oog was (ten minste op die verhoog).

Wat meer wil jy hê? Vir diegene wat meer wou hê, was daar baie stof tot nadenke gelaat deur die boeiende gesprekke en boekbesprekings wat plaasgevind het.

Te wit? Te veel oumense? Te Afrikaans? Miskien, maar Woordfees is lank nie meer net vir ’n klomp ou wit tannies nie (nie dat daar iets fout met ou wit tannies is nie).

Deur gewoon weg te bly, gaan niks verander nie. Wees die gehoor wat jy by Woordfees wil sien.

Soos die kat kom Woordfees beslis weer en in 2019 kom dit van 1 tot 10 Maart. As jy die feestelikheid vanjaar misgeloop het, moenie weer ’n suurpruim wees nie. Maak volgende jaar (vroegtydig) ’n plan.

Indien jy vanjaar saamgefees het, gaan volgende jaar nóg groter. Nooi mense saam of sleep hulle saam as hulle nie na rede wil luister nie.

Ek verlang al reeds na my mede feeskatte, -brakke en -beeste. Ek sal egter moet wag, want as die
feeskat weg is, is die kollig vir eers uitgeblaas.