Annerine Snyman

Die Maroen Masjien het gewys waarom hulle vir die derde agtereenvolgende jaar in die Varsitybeker-finaal sal speel. Maties het vanaand, ná ’n oortuigende semi-finaal vertoning teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), na vanjaar se finaal deurgedring. Maties het 65–18 teen die Johannesburgse besoekers geseëvier.

Wits, wat verlede jaar vir die eerste keer in die boonste divisie van die Varistybeker begin speel het, het hul semi-finaal debuut gemaak. Maties het die vaste fasette gedomineer en opgemaak vir die gelykop in ronde vyf teen Wits.
Maties was van die afskop af op die voorvoet met Neethling Fouche se drie, reeds in die eerste minuut van die wedstryd. Daarna het Maties nog vyf drieë in die eerste helfte gedruk, ondanks Wits se power play in die dertiende minuut om Maties se momentum te probeer kniehalter.

Chris Smit (Maties Centre – 12) Maties vs Wits, Danie Craven Stadium, Stellenbosch – 2 April 2018. Photo: Thys Lombard

Wits se Bin Kasende Kapepula het hulle eerste punte in die drie-en- dertigste minuut met ’n sewe-punt drie aangeteken en Christian Humphries het die drie verdoel. Hulle het egter teen daardie tyd reeds ’n geelkaart afgestaan en kort daarna weer een afgestaan weens siniese spel.

Teen halftyd het Maties 40–9 voorgeloop. Maties het kort na die tweede helfte se aanvang eerste punte aangeteken met ’n strafskop, om hul gaping na 43–9 te vergroot. Wits se tweede drie het in die 56ste minuut gekom en dit was
weereens ’n sewe-punt drie, wat verdoel is. Dit was Wits se laaste punte vir die wedstryd.

Maties se volgehoue momentum tesame met Duncan Saal op regter-vleuel het in hul guns getel, met nog ’n drie in die 59ste minuut, kort nadat hul ’n power play geroep het. Die drie was egter nie verdoel nie en het die telling op 48–18 gelaat.

Tien minute later het Saal weereens sy kant gebring, maar die keer met ’n sewe-punt drie. Daarna het Maties nog twee drieë gedruk, deur Janco Venter en Munier Hartzenburg onderskeidelik. Maties het met ’n enorme telling van 65–18 asook ’n tuisfinaal weggestap.

Michal Haznar (Maties Centre – 13) Maties vs Wits, Danie Craven Stadium, Stellenbosch – 2 April 2018. Photo: Thys Lombard

Johan Momsen, die wedstryd se player that rocks het na afloop van die wedstryd gesê dat die span nog baie harde werk het wat voorlê voor die finaal wat oor twee weke sal plaasvind.

Constant Beckerling, Wits se kaptein, het toegegee dat Maties strawwe kompetisie was en dat hulle “fantastiese rugby” gespeel het. Hy het ook gelukwense aan Maties oorgedra en hul sterkte vir die finaal toegewens.

Hawies Fourie, Maties se hoofafrigter, was vol lof oor sy span se eerste helfte vertoning, maar het verduidelik dat die span gedurende die eerste twintig minute ná halftyd aan die slaap was.

“Ons het ’n paar foutiewe besluite gemaak, maar ná die tweede strategie-breek, het ons dit weer aanmekaar gesit en goed saam gespeel. Ons het vier drieë in die laaste twintig minute gedruk, so ek is baie trots daarop,” het Fourie gesê.

Maties sal teen Pukke te staan kom op 16 April by Danie Craven Stadion om 19:00.

Puntemakers:

Maties:
Drieë: Neethling Fouche; Johan van Niekerk; Chris Smit; Wilmar Arnoldi; Janco Venter (2);
Chris Smith; Duncan Saal (2); Munier Hartzenberg.
Doelskoppe: Chris Smith (5)
Strafskoppe: Chris Smith

Wits:
Drieë: Bin Kasende Kapepula; David Cray
Doelskoppe: Christian Humphries (2)